“Gaan terug knieë toe, die antwoorde is by die Here”

Geskryf deur Lindie Strydom

“Gaan terug knieë toe, die antwoorde is by die Here”, was die aanmoediging wat Faith Durie in 2010 beleef het.  Sy het iets konkreet nodig gehad om haar aan hierdie belangrike draaipunt en moment in haar lewe te herinner:  ‘n gebedskussing.  Sy sou later ontdek dat hierdie boodskap nie net vir haar bedoel was nie, maar dat God al Sy moë en moedelose kinders wat antwoorde op allerande plekke soek, terug knieë toe roep.

Faith het haar naam gestand gedoen en gereageer op hierdie impuls deur eers net ‘n gewone kussing vir haar naaste familie en vriende te koop en dan te gee met hierdie boodskap van “gaan terug knieë toe.”  Met die volgende rondte het sy self, met haar beperkte naaldwerkvaardighede, ‘n paar gebedskussings gemaak.  Vandag word etlike honderde gebedskussings deur 'n groep vroue in Lyttelton, Pretoria gemaak as deel van ‘n werkskeppingsprojek.

“Ek kan getuig van genesing en herstel by die voete van Jesus – dit is die plek om te wees”, sê Faith Durie wat tot vandag toe bid oor elke kussing wat uit haar huis uit gaan.  Vir haar dra die gebedskussing ‘n getuienis van genesing omdat sy daar op haar knieë weer van vooraf moes leer om Jesus se onvoorwaardelike liefde en aanvaarding te geniet.  Depressie het gedreig om haar lewe en geluk te steel en Jesus het lewe in oorvloed vir haar teruggegee.  Die projek mag nooit ‘n besigheid of worsmasjien word nie.  Elke kussing verteenwoordig iemand se verhouding en intimiteit met die Vader wie ook daardie kind van Hom wil ontmoet waar hy is op sy pad saam met God.

Vir my bring die gebedskussing vreemde mense en wêrelde bymekaar.  Dit tref my elke keer dat ‘n vrou met baie minder materiële bronne as ek en wie God werklik vertrou vir haar daaglikse brood, haar hart en hande in liefde gee om my as bevoorregte sussie in Christus te herinner aan Wie vir ons altwee sorg.  In ons gesinne word ons gelyk op ons knieë en word ek herinner dat my kinders vir wie ek van Jesus leer, ook my broers en suster in Christus is.

Ons kan enige plek met God gesels – op die pad in ons motors, in die stort, voor ons rekenaar of langs die sportveld, maar daar is tog iets wat met my gebeur wanneer ek letterlik die knie in verootmoediging voor God buig en my dag en gejaag halt roep om Hom as Koning van my lewe te eer. Die gebedskussing is vir my ‘n herinnering aan God se heerskappy in my lewe en die voorreg van verhouding en intieme gesprek met Hom.

Verder het ek die voorreg om elke week op die program wat ek vir kykNET aanbied, “Geloof, Hoop en Liefde”, ons gaste te seën met ‘n gebedskussing.  Ek gesels met interessante, inspirerende en uiteenlopende mense wie hulle lewens gee om ander te dien met die Goeie Nuus van Jesus hetsy deur ‘n boek of CD of gemeenskapsprojek.  Die gevaar vir almal van ons is dat jou eie stilword- en eenkant tyd by Jesus se voete onder die druk en eise van bediening ly.  Die gebedskussing is vir my ‘n herinnering aan ons “wees net” tye saam met Jesus.  Waar jy kom vir jouself en nie net om inhoud te kom haal om vir ander te kan gee nie.  Die oorhandiging van die kussing aan die persoon, gee my die geleentheid om ‘n seënwens uit te spreek en so word die gebedskussing vir my ook ‘n simbool van woorde van lewe en aanmoediging en bemoediging.

Efesiers 3:14 “Daarom kniel ek in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op aarde sy bestaan te danke het.  Ek bid dat Hy deur Sy Gees uit die rykdom van Sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innnerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.  Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.  Mag julle Sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.”

www.faithduriekussings.co.za
www.facebook.com/FaithDurieKussings

@FaithKussings